Dag 2 - Bewustheid van jou Lewensdoel



_______________, ek roep jou gees tot aandag in die naam van Jesus Christus van Nasaret. Luister met jou gees na God se beloftes vir jou in sy Woord. “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10 NV). Jou Vader het ’n doel met jou. Ek seën jou om daardie doel te ken wat God in sy hart vir jou dra en ek seën jou om alles te wees wat God jou gemaak het om te wees. Wanneer jy die vreugde daarvan ervaar om jou skeppingsdoel uit te leef, sal dit voordeel vir jou en vir ander inhou en die wêreld sal deur jou seën ervaar.


_______________, ek seën jou met die verwesenliking van die roeping van God op jou lewe om sy wil ten volle uit te leef. Ek seën jou met jou Vader se perfekte tydsberekening vir jou lewe, om nie oorhaastig of traag te wees nie, maar om sy wil te ken en sy wil op die regte tyd, die regte plek, die regte manier en met die regte mense aan jou sy te doen.


Ek seën jou om die dinge te weet waarvoor jou Vader jou geroep het, en die dinge te doen waarvoor Hy jou geroep het. Ek seën jou om God se werk met waardigheid en respek en met vrede en vreugde te doen – soos Hy wil. Hy het jou uniek ontwerp as ’n instrument om spesifieke goeie werke te verrig. Jou lewenstaak sal jou soos ’n handskoen pas en jy kan dit beter as enigiemand doen omdat jou Vader jou in ’n unieke posisie daarvoor geplaas het. Ek stem saam met God en met sy Woord en ek seën sy bloudruk van jou. Ek seën die goeie werke waarop Hy jou naam geskryf het en ek seën die manier wat jou Vader jou berei het om dit te doen. Ek belê in jou, ek gee om vir jou, ek is lief vir jou en ek koester jou want jy is ’n kosbare skat en seën vir die wêreld.


Ek seën jou om by ’n lewegewende gemeenskap in te pas. Jy het net ’n stukkie van die groter mosaïek en daarom seën ek jou om in te pas saam met ander, want jou roeping is nie ’n eenmanvertoning nie. Ek seën jou met ’n talent om mense te vind wat ’n soortgelyke hart, visie en gees as jy het. Ek seën jou om deel te wees van ’n familie en bediening waar jy jou grootste vervulling sal beleef omdat jy inpas by mense wat ook hulle vervulling in God se doel vind en almal dít doen waarvoor God hulle gemaak het.


Jou Vader sal jou seën met die regte toe deure, want jou vyand sal probeer om jou dinge te laat doen waarvoor God jou nie gemaak het nie – goeie dinge, winsgewende dinge, wettige dinge, eerbare dinge, maar dinge waarvoor jou Vader jou nie bestem het nie. Ek seën jou om nie tyd en energie te mors op aktiwiteite wat buite jou Godgegewe roeping val nie, maar om jou lewe ten volle te belê waar God jou plaas en om ten volle ontvanklik te wees vir vandag se genade en vandag se opdrag. Jou Vader sal jou seën met geopende deure om op sy bepaalde tyd op jou roepingspad te vorder sodat jy die vreugde van vervulling kan ervaar omdat jy op die regte tyd op die regte plek is.


Jou Vader begeer dat jy ’n pragtige gees sal hê. Ek seën jou gees met vervulling, grasie, elegansie en die wysheid en prag van die hemel. Ek erken en vier die skoonheid wat God in jou kweek. Jy is sy handewerk, sy meesterstuk, sy gedig. Jy is nie net ’n stukkie van ’n legkaart of ’n gereedskapstuk wat ’n taak moet verrig nie. Jy is nie net daar om ’n klomp goeie werke te doen omdat die wêreld dit nodig het of omdat die koninkryk van God uitgebrei sal word nie. Ek seën jou met gehoorsaamheid aan God vir elke nuwe dag, met skoonheid van gees, met arbeid sonder moeite en met God se guns wat die weg baan.


Jou Vader se plan is dat jy die heerlike geur van die hemel sal versprei sodat mense na jou toe aangetrek sal word. Dit sal nie gebeur omdat jy effektief, bekwaam of selfversekerd is nie, ook nie omdat jy heilige heldemoed het nie, maar omdat die aroma van die hemel om jou hang. Ek seën jou,
_______________, om ’n lieflike reuk te wees terwyl jy die werk doen wat deur God voor jou gelê word.


Ek seën jou in die naam van Jesus Christus van Nasaret.


Antwoord met jou gees...

Skryf jou gedagtes neer